Vryburger

Vryheid en orde / Freedom and order

‘n Engelse Matieland sou Manyi bly maak


“Goddank de tijd van ontnuchtering is aangebroken,” het ’n anonieme student geskryf. “Ons kan als ons net wil,” het N.J. van der Merwe, ’n spreker, gesê.

Op 6 en 7 April 1911, 100 jaar gelede, is die eerste “Studente Taal Konferentie” gehou toe studente op Afrikaans in Stellenbosch aangedring het. Sewe jaar later is die Engelstalige Victoria-kollege toe omskep in die Afrikaanse Universiteit Stellenbosch (US).

Danksy daardie – en soortgelyke – besluite was Matieland nou amper 100 jaar lank Afrikaans. Nooit nét Afrikaans nie, maar altyd onteenseglik Afrikaans in sy uitgangspunt en strewes.

Vandag maak die 1911-besluite party mense by die US ongemaklik. Om die waarheid te sê: Dit word uit die US se geskiedenis weggeskryf. Gaan lees maar op die universiteit se webblad sy eie “(a)historiese agtergrond”. Nie een maal in die duisend woorde word melding gemaak van Afrikaans nie. En dít terwyl die idee van ’n Afrikaanse/Hollandse universiteit die uitdruklike voorwaarde was van Jan (Ons Weldoener) Marais se skenking van 100 000 pond, wat dit moontlik gemaak het om die universiteit in 1918 op te rig.

So ’n feit laat ’n mens mos nie sommer per ongeluk uit nie – iemand besluit om dit te verswyg.

Vanjaar, 100 jaar ná 1911, oorskry die aantal Engelse eerstejaars die eerste keer die Afrikaanses (verneem ek van twee US-personeellede). Doe zo voort, en oor twee of drie jaar is die US ’n Engelse universiteit, met Afrikaanse studente in die minderheid.

Dié toedrag van sake behoort ’n mens nie te verras nie. J.P. Landman het reeds verlede jaar in hierdie einste ruimte voorspel: “Nog drie jaar hiervan en Afrikaanse studente gaan minder as 50% wees” (“Afrikaans op Maties: Dis die demografie”, DB, 28.01.2010).

Tot daar is hy spyker-op-die-kop. Maar toe word US-besluitnemers se hande in onskuld gewas. Die verengelsing van die US, lui Landman se standpunt min of meer, is die gevolg van meedoënlose demografiese veranderinge; dit is nie vanweë ’n besluit dat Afrikaanse studente die minderheid gaan word en die universiteit verengels nie, maar vanweë faktore buite die US se beheer.

Daar is veel meer Engelse studente as Afrikaanse studente in Suid-Afrika; en, meen Landman (verkeerdelik), daar is te min Afrikaanse studente in die land om ’n hoofsaaklik Afrikaanse US te regverdig. Buitendien, reken hy, om op grond van taal enige perke op die studentegetalle te plaas, sou “uitsluiting” beteken. En uitsluiting op grond van taal, seg Landman, “is uit”. “Getalle sal bepaal” hoeveel Afrikaans daar op Stellenbosch is, en blykbaar nie besluite nie.

So gesien, is ’n Engelse Stellenbosch – wat die Engelse taalvoorkeur van die land se gemiddelde student weerspieël – eenvoudig onafwendbaar. Dit klink vir my nogal na iets wat Jimmy Manyi bly sal maak: geen oorkonsentrasie Afrikaanse studente nie.

Maar die werklikheid is dat mense aan die US vandag wél besluite oor taal neem, net soos dit in 1911 gebeur het. Dit is steeds so dat “ons kan als ons wil”. ’n Universiteit wat Afrikaans wil bly, beperk sy getal voorgraadse studente en beperk selfs, soos een universiteit in die land tans doen, die proporsie Engelstalige studente wat hy toelaat.

Indien die US egter sy studentegetalle aanpas om die nasionale demografie te weerspieël, is dit ook omdat iemand so besluit het.

Dat die US in die afgelope tien jaar gegroei het van 20 000 tot 28 000 studente, in stede daarvan om hom te hou by die besluit van die US-Raad in 2004 om nie verder voorgraads te groei nie, dui op besluite wat die 2004-besluit omver gewerp het.

Dat die US nou meer T-opsie-onderrig (afwisselend Afrikaans en Engels in een klas) aanbied as A-opsie (hoofsaaklik Afrikaans), is omdat so besluit is. Lesers onthou dalk hoe hulle sedert 2002 telkens verseker is dat die T-opsie net ’n uitsondering sal wees. Vandag is die A-opsie die uitsondering.

In 1911 en daarna was dit besluite wat ’n Afrikaanse universiteit tot stand gebring het. In 2011 maak besluite dit ongedaan, nie omstandighede buite die US-bestuur se beheer nie.

Piet le Roux is ’n onafhanklike kommentator. Hy was betrokke by die reël van die herdenking van die studentekonferensie.

<<Oorspronklik verskyn in Die Burger, hier, op 5 April 2011>>

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: