Vryburger

Vryheid en orde / Freedom and order

Hond jaag sy eie stert


Die Begroting 2011/12 is daarop gerig om probleme wat die regering self veroorsaak reg te stel.

Toe oudpresident Ronald Reagan in 1986 sy voorgangers in die Amerikaanse regering se beleid moes opsom, het hy gesê hulle beleid was eenvoudig: “As dit beweeg, belas dit. As dit aanhou beweeg, reguleer dit. En as dit ophou beweeg, subsidieer dit.” Alhoewel Reagan toé ‘n bietjie oordryf het, pas sy woorde die Suid-Afrikaanse regering vandag soos ‘n handskoen en ‘n mens sien dit maar net weer in die onlangse begrotingsrede van Pravin Gordhan, Minister van Finansies.

Sy begroting, sê Gordhan, doen drie dinge: dit sorg dat die regering meer aktief en ingrypend kan wees vir allerhande goeie doele, dat sekere prioriteite in Ebrahim Patel se Nuwe Ekonomiese Groeiplan gefinansier word; en dat makroëkonomiese stabiliteit behou word terwyl ondernemings en werkskepping ondersteun word. Maar werkskepping, lei ‘n mens uit die dokument af, is blykbaar die leitmotif.

Hoe beplan die regering om dié saak aan te spreek? Maklik! – en presies soos Reagan gesê het: Belas, reguleer en subsidieer.

Soos enige van die vyf miljoen inkomstebelastingbetalers in Suid-Afrika kan getuig: as jy roer is die belastinggaarder daar. Hoe harder jy werk, hoe groter word die gaarder se sny koek. So al langs die pad bekom die regering verder ‘n kwart van sy inkomste deur BTW – wat ook maar uiteindelik uit die sakke van werkendes kom al verdien hulle nie eens genoeg om inkomstebelasting te betaal nie. Die totale belastingopbrengs in Suid-Afrika, sê die Heritage Foundation, is ‘n kwart van die Bruto Binnelandse Produk, oftewel ‘n kwart van die waarde van alle finale goedere en dienste wat in die ekonomie geproduseer word.

Op die webblad van die Belastingbetalersvereniging van Suid-Afrika lees mens dat meer as een uit agt mense in Suid-Afrika vir die staat werk. In 2000 was die gemiddelde inkomste van ‘n staatsamptenaar 12% hoër as in die privaat sektor – in 2010 was dit 44% hoër. In die afgelope vyf jaar, sê Gordhan sélf in sy begrotingsrede, het die salaristoedeling vir staatsamptenare verdubbel van R156 duisendmiljoen tot R314 duisendmiljoen – ongeveer ‘n derde van alle staatsbesteding. Hier is nie sprake van waarde vir geld nie.

Met behulp van die uitgebreide staatsdiens word die tweede been van Reagan se ontleding bewaarheid: regulasie. Wie ook al die aanslag van die belastinggaarder kon weerstaan, kry te doen met wette wat ‘n normale werknemers-/werkgewersverhouding onmoontlik maak. Voorskrifte van die regering – in die naam van vernietigende frases soos “decent jobs” – maak dit toenemend moeilik vir werknemers om aangestel te word. Daar word van werkgewers vereis om werknemers meer te betaal as wat hul bydra tot die maatskappy regverdig. En wanneer ‘n werknemer in Suid-Afrika eenmaal aangestel is, is dit boonop slegs met groot moeite dat hy weer afgedank kan word.

Die gevolg is dat die vraag na arbeid daal en laaggeskoolde en lae-loonwerkers die swaarste getref word. Terwyl groot maatskappye nog swaar reguleringskostes kan dra deur toegeruste menslike hulpbrondepartemente, is dit veral klein ondernemings wat deur die regulasies lamgelê word. Daarom is dit soveel te meer opvallend wanneer Gordhan sélf in sy toespraak daarop wys dat besighede wat minder as 50 mense in diens het verantwoordelik is vir 68% van privaatsektorindiensname.

Gordhan se oplossing vir die lam gelêde ekonomie wat nie werk skep soos die regering dit wil hê nie, is subsidiëring. Hoe meer iets in die eerste plek deur belasting en regulering ontmoedig was, hoe meer sal dit nou ontvang sodat dit weer kan beweeg. Uit ‘n totale begrote besteding van R980 duisendmiljoen het R150 duisendmiljoen, oftewel sowat 15%, vanjaar ‘n noue verband met werkskeppingsinisiatiewe. (Die bedrag is ook omtrent gelyk aan die hoeveelheid skuld wat die regering vanjaar wil aangaan, naamlik 5,3% van BBP, ‘n bedrag wat wenkbroue behoort te laat lig.)

Maar wat anders is subsidies en aansporings as pogings om ‘n maatskappy se insetkoste te verlaag? Die ironie van die groot werkskeppingsplan is dat dit implisiet erken dat die arbeidsinsetkoste in Suid-Afrika te hoog is, waarvoor die blaam aan die voete van die ANC – in samewerking met COSATU en die SAKP – gelê moet word.

Uiteindelik is die regering op die oomblik sy eie werkskepper: dit skep met arbeidswette sy eie probleme en vererger die probleme wanneer hy dit probeer oplos.

Piet le Roux

<<‘n Weergawe van hierdie teks het op 2 Maart 2011 in Die Burger as rubriek verskyn.>>

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: