Vryburger

Vryheid en orde / Freedom and order

Kyk na staatsrede deur bril van die verlede


Staatsredes kan skerper gelees word met ’n bifokale bril – een waarmee jy ver terug in die verlede kan kyk en dan vir besonderhede kan inzoem.

Hoe sal ons eersdaags pres. Jacob Zuma se staatsrede – die regeringsplanne vir die jaar wat voorlê – beoordeel wanneer hy die parlement daarmee open?

Zuma se parlementsopening spruit uit ’n tradisie wat meer as 700 jaar oud is. Die parlement – as instelling wat die gekonsentreerde mag van ’n koning betekenisvol versprei het na verteenwoordigers van burgerlikes – se oorsprong kan tot in die Engeland van 1295 nagespeur word.

Vroeër in die 13de eeu is die grondslag gelê vir die grondwetlike reg soos ons dit vandag ken toe 25 baronne die Engelse koning in 1215 gedwing het om die Magna Carta te aanvaar. Die Magna Carta (letterlik: grootse papier) het die koning se amperse monopolie op gewelddadige mag verbreek en was ’n baken langs die weg van grondwetlike ontwikkeling.

Dit het onder meer belangrike burgerlike vryhede omskryf en die basis van gelykheid voor die reg geformuleer. Só invloedryk was die dokument dat drie klousules vandag nog in die wetboeke van Engeland en Wallis staan.

Die Magna Carta se verdunning van despotiese mag het uitgekring, en in 1295 is die eerste vergadering oor landsake gehou wat nie net vir die koning en senior adellikes was nie, maar ook vir die verkose verteenwoordigers van plattelandse grondeienaars en dorpsbewoners. In sy aankondiging van die parlementsitting het koning Edward I geskryf: “Wat almal aangaan, behoort vir almal te wees om oor te besluit.” Kortom: minder mag vir Edward, meer vir burgerlikes.

Die 700 jaar sedertdien getuig van ’n voortsetting van dié tendens van magsverspreiding. Intussen het sommige revolusies, illusies, vriendjieskapitalisme en selfs dekades van kommunisme wel afbreuk gedoen aan die groter beweging deur mag weer te konsentreer, maar in den brede ry ons ’n golf van ongekende individuele vryheid – van magsdeling.

Maar waarnemings oor langtermyntendense uit die verlede is natuurlik nog geen waarborg vir môre nie.

Hoe goed gaan dit dus in ter na sio naal, en waar pas Suid-Afrika in? ’n Nuttige barometer van individuele vryheid is die Fraser-instituut se jaarlikse publikasie, die gesaghebbende Ekonomiese Vryheid van die Wêreld-verslag. Dié instituut beoordeel jaarliks meer as 140 lande se vlak van “persoonlike keuse, vrywillige verhandeling, vrye mededinging en sekerheid van private eiendomsbesit”.

Sedert 1980, toe dié verslag begin is, was daar sonder onderbreking ’n geleidelike tendens na meer vryheid op aarde.

Vir ’n punt uit 10 het die wêreld in 1980 gemiddeld van 5,53 gekry, wat verbeter het tot 6,74 in 2007. Maar in 2008, waarsku die skrywers, was daar die eerste maal ’n internasionale daling en het die gemiddeld tot 6,67 teruggesak.

Binne hierdie internasionale konteks het Suid-Afrika van 1980 tot 1990 geval van 6,03 tot 5,46, maar vanaf 1990 sterk verbeter tot by ’n hoogtepunt van 6,96 in 2000. Suid-Afrika was sedertdien wisselvallig en het in 2008 ook ’n skerp terugval beleef toe die land van 6,90 – toe nommer 70 – na 6,65 afgegradeer is . Hy staan nou op nommer 82 en is onder die gemiddeld.

Die wêreld sowel as Suid-Afrika se staatsredes aan die begin van 2008 was dus ’n voorspel tot ’n terugkalwery van die belangrike vryheidstendens wat in 1295 in daardie primitiewe Engelse parlement beslag gekry het. In plaas van meer vryheid op aarde in 2008 as in 2007 was daar minder.

Deur ’n bifokale bril sal ’n mens op twee maniere na Zuma (en ander staatshoofde) se komende staatsrede kyk. Van ver gesien, sal ’n mens dit meet aan die groot tradisie van grondwetlike magsverdunning sedert die Magna Carta.

In die pas met hierdie tendens laat ons huidige grondwet Suid-Afrikaners meer individuele vryheid toe as enige vorige grondwet.

Van nader beskou, sal ’n mens Zuma (en ander staatshoofde) se boodskap in 2011 vergelyk met 2010 s’n. Die verskille sal kan sê of – en hoeveel – die regering die mag vanjaar verder gaan konsentreer of meer sal laat verdun. Gepaste reaksies sal dié in die gees van ’n sewe eeue oue tradisie wees.

Piet le Roux is aan die F.W. de Klerk-stigting verbonde.

<<Oorspronlik verskyn in Die Burger, hier, 19 Januarie 2011.>>

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: