Vryburger

Vryheid en orde / Freedom and order

Pasop vir dié spannetjie politieke Kersvaders


Die BurgerDie enigste manier – het ek nou besef – om die Wêreldfees van Jeug en Studente te verstaan, is om dit in terme van die opvolgstryd te ontleed.

Dis nou nie die opvolgstryd om die presidentskap van Suid-Afrika of so iets nie. Nee, dis die opvolgstryd om Kersvader te wees.

Kyk, dan maak alles sin.

Ten eerste verklaar dit die rooi logo op die jeugfees se webblad, die program en die rooi tafeldoek van die sprekers.

Die ouens het nou nie hul witklos-mussies opgehad nie, maar dit was waarskynlik ’n bietjie warm. Omdat die tema amptelik so baie te make het met anti-imperialisme en selfs anti-kapitalisme, het ek aanvanklik gedink die rooi is ter nagedagtenis aan die kommunisme.

Maar die verhaal van Kersvader is veel meer samehangend as die kommunisme en ek wil graag die jong denkers die voordeel van die twyfel gee.

Ten tweede verklaar dit die datum vir die jeugfees. Die rede waarom die Jeugfees so kort voor Kersfees gehou is, is omdat die jongspan graag wou gehad het Kersvader moet ’n spreker wees.

Aangesien die organiseerders ongelukkig vergeet het om hom te nooi, het hy toe nooit opgedaag nie, soos so baie van die ander sprekers.

Ten derde verklaar dit die ontsaglike bedrae wat geëis is om die fees aan te bied. Die verkeerdelik geadresseerde Kersbriewe, waarin provinsies en organisasies vroeër vanjaar om finansiering van miljoene rande gevra is, was eintlik bedoel vir Kersvader se skatkis met sy onbeperkte geld.

Ten vierde verklaar dit waarom die Jeugfees se agenda so rooi geverf was met eise oor wat alles gratis moet wees.

Kyk, in die regte wêreld is daar nie iets soos ’n gratis ete nie. Uiteindelik betaal iemand wél, selfs al staan elke kommunis en sosialis saam op hul kop.

Maar as dit gaan oor wat Kersvader kan bereik, dan geld die betaal mos nie.

Dan kan “onderwys, wetenskap, kultuur en inligting” alles “gratis” wees (punt twee op die program), want Kersvader tower sulke goed sommer uit die niet op.

Laastens verklaar dit waarom so baie afgevaardigdes van lande waar die Kersvader-mentaliteit heers, die konferensie bygewoon het.

Kersvader is mos die wonderlike, alwyse uitdeler van geskenke wat oneindige bronne tot sy beskikking het en die hele wêreld se geskenke op een nag kan uitdeel.

’n Kersvader-mentaliteit is dus die geloof dat dit goed is om een almagtige leier bo-aan die samelewing te hê, wat alles koördineer en van wie alle mense vir gunste en gawes afhanklik is.

Dis ook eintlik nogal baie soos die kommunisme, maar dis regtig net ’n kosmiese toevalligheid.

Die kommunisme word dan nie eens genoem op die program nie en baie mense dink in elk geval kommunisme is sleg.

Kersvader, inteendeel, is goed, want hy het goeie bedoelinge.

Noord-Korea is ’n uiterste voorbeeld van die Kersvader-mentaliteit.

Heel bo-aan die leer (leër!) in hierdie land sit ’n lid van die Kim-familie en hy besluit oor wie kry wat.

Kyk, in daardie land is die kapitalisme nou al oortuigend verslaan. Om die waarheid te sê, dit gaan so wonderlik in daardie afgesonderde wêreld dat hulle nou al per lugpos geskenke aan hul buurland Suid-Korea uitdeel.

Praat van goeie bedoelinge!

Nog ’n prominente, deeltyds afgetrede Kersvader, oud-president Fidel Castro van Kuba, is selfs genooi om ’n spesiale boodskap vir die Jeugfees se openingseremonie te skryf.

Hy het van sy steun laat weet en in sy boodskap die inploffing van die kommunistiese USSR as ’n “erge terugslag vir die wêreld se progressiewe beweging” beskryf.

Kuba is die land waarvoor Suid-Afrika onlangs die Kersgeskenk van R1,1miljard se skuldkansellasie aangekondig het.

Natuurlik – ’n mens moet erken – soos minister Rob Davies gesê het, was dit nie “asof Kuba die skuld nie kon betaal nie”.

Kyk, net as jy in ’n feëverhaal glo, is die Jeugfees sinvol.

En dieselfde geld die sosialisme en die kommunisme en enige ander storie wat jou wil vertel dat jy op Kersvader kan staatmaak.

Piet le Roux is verbonde aan die F.W. de Klerk-stigting. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

<<Oorspronklik verskyn in Die Burger, hier, op 22 Desember 2010.>>

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: