Vryburger

Vryheid en orde / Freedom and order

‘n Potjie skaak tussen Patel en Adam Smith


Die BurgerMet sy nuwe ekonomiese groeiplan het minister Ebrahim Patel ’n dooie ekonoom pas tot ’n potjie skaak uitgedaag.

Suid-Afrikaners het belang by die uitslag, want ons is Patel se pion ne in ’n spel wat op verlies sal uitloop – vir die regering asook vir alle Suid-Afrikaners.

Teenoor Patel sit Adam Smith, die Skotse ekonoom wat die metafoor van die onsigbare hand geformuleer het. Al is hy al 220 jaar lank dood, is Smith altyd weer ’n bok vir sports wanneer iemand die samelewing soos ’n skaakspel wil speel. Wat het Patel tog in sy arsenaal dat hy meen hy kan wen waar Wladimir Lenin gefaal het?

Patel se groeiplan behels ’n herstrukturering van die ganse Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit het blykbaar ten doel – en wie is daarteen? – om die “miljoene nuwe werksgeleenthede te skep wat Suid-Afrika benodig”. Sy plan is vol goeie bedoelinge, waaronder ’n meer ontwikkelde, demokratiese, hegte en billike ekonomie en samelewing – en op die koop toe volgehoue groei. Hierdie doel heilig blykbaar Patel se middele: die onderwerping van landsburgers aan die owerheid.

Op bladsy een is dit nog wollerig: “Die skuif na die nuwe groeipad sal die kreatiewe en kollektiewe pogings vereis van alle afdelings van die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit sal leierskap en sterk regering vereis.”

Algaande word dit egter duidelik dat die regering gaan voorskryf hoe om te arbei en te spin. Soos Stephen Grootes by The Daily Maverick saamvat: “Het ons gesê [die dokument is] eensydig? Ons bedoel dit is eintlik volslae intervensionisties, en die staat sal die hoofrolspeler in die ekonomie wees.”

Om ’n lang storie kort te maak: Die groeiplan reduseer Suid-Afrikaners tot ’n minister se ekonomies dienspligtige skaakstukke.

Soos enige bevelvoerder met genoeg mag oor sy troepe is Patel gereed om soms ’n paar pionne vir sy groter saak op te offer. Dit is onvermydelik, lui die plan, dat kompromieë gemaak sal moet word “tussen die behoeftes van verskillende industrieë vir infrastruktuur, vaardighede en ander intervensies”.

“Moeilike keuses” wat gemaak moet word (raai maar wie die laaste sê sal hê), sluit in voorstelle oor die vasstel van pryse en salarisse en toedelings aan ’n staatsbeheerde bank en mynhuis. Dit is maar die oortjies van die seekoei.

Teenoor Patel en sy pionne lyk Smith se kanse dus nogal sleg, veral aangesien hy nie sy eie skaakstukke uitpak nie!

Maar Smith hou twee troefkaarte: Met sy onsigbare hand gaan hy eerstens Patel se stukke teen hul meester laat rebelleer, en tweedens gaan hy hulle skuif waarna en wanneer hy wil – op en van Patel se skaakbord en sommer uit sy beurt uit.

Smith gaan dit regkry, want hy weet wat Patel nog miskyk: Regte mense kan nie met ’n slim plan verontmenslik word tot passiewe skaakstukke nie. Reeds in 1759 het hy in The Theory of Moral Sentiments hieroor geskryf. Asof onder die leiding van ’n onsigbare hand beweeg elke individu in werklikheid volgens sy eie ideale en onafhanklik van ’n sentrale beplanner – en wanneer hy in vrede eiebelang nastreef op die groot skaakbord van die lewe, maksimeer hy ook sy bydrae tot die samelewing se algehele welvaart.

So ’n vreedsame interafhanklikheid kan wel dramaties ontwrig word, het Smith toe gesê, deur die “man van die stelsel” – hy wat vol oordrewe vertroue in sy eie beheervermoë is. Dié soort man ignoreer individue se inherente bewegingsbeginsels en probeer om hulle soos willose skaakstukke met wette te beweeg. “As die twee bewegingsbeginsels ooreenstem en in dieselfde rigting werk, sal dit met die spel van die menslike samelewing gemaklik en harmonieus gaan, en waarskynlik gelukkig en suksesvol. As hulle teenoorgesteld en verskillend is, sal dit met die spel jammerlik gaan en sal die samelewing altyd in die hoogste graad van wanorde verkeer.”

Elke mens is ten diepste bedeeld met ’n eie wil. ’n Ekonomiese plan wat die regering in beheer plaas, ontken dít en sal uiteindelik die hoogste graad van mislukking tot gevolg hê. Het Patel niks uit die ondervinding van geesgenote in die Sowjetunie en die inploffing van sentrale ekonomiese beplanning geleer nie?

Le Roux is aan die F.W. de Klerk-stigting verbonde. Hy skryf in sy eie hoedanigheid.

<<Oorspronklik verskyn in Die Burger, hier, 1 Desember 2o1o.>>

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: