Vryburger

Vryheid en orde / Freedom and order

As Atlas sy skouers in SA moes ophaal


Die gewone raaiskote oor waarheen die miljoen produktiewe Suid-Afrikaners sedert 1994 verdwyn het, is verkeerd. Hulle is nie in Engeland nie; ook nie in Australië nie. Hulle is nóg in Europa nóg in die VSA; nóg in Taiwan nóg in ’n woestynsuil in Doebai. Hulle is ook nie almal vermoor nie.

Jou neef, jou buurman, jou dogter, dalk selfs jy – almal wat weg is, is in John Galt se vallei.

John Galt is die man wat belastingbetalers laat emigreer. Hy is die held in een van die mees gelese boeke in die VSA, die 1957-roman Atlas Shrugged deur Ayn Rand. Losweg vertaal, lui die titel: “Atlas haal sy skouers op.”

In die Griekse mitologie is Atlas die kragman wat die aardbol in posisie hou. As Atlas sy skouers ophaal, wegstap en staak, sal die aardbol met vernietigende gevolge neerpletter.

En dit is juis wat Galt wil hê – ’n staking van ’n heel ander soort as wat ons in Suid-Afrika ken: nie van werknémers nie, maar van werkgéwers. Met werkgéwers bedoel Galt die sakemense en die skeppendes wat as welvaartskeppers in die samelewing optree en onder wie omtrent alle ander mense werk.

Die verhaal het twee merkwaardige parallelle met Suid-Afrika.

Eerstens: Wanneer ’n mens in die aand Atlas Shrugged toemaak en die volgende dag Die Burger oopmaak, is dit asof jy oor dieselfde sake verder lees.

Kortliks: Regeringsamptenare meng hulle al hoe meer in die ekonomie in, en welvaartskeppers verdwyn.

Sedert 1994, skat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het tussen 500 000 en ’n miljoen Suid-Afrikaners die land verlaat. ’n Mens kan met redelikheid aanneem dit was mense met beduidende ekonomiese skeppingskrag en hoë inkomstepotensiaal – mense wat belasting sou betaal.

In Suid-Afrika is vandag dus rofweg 5,5 miljoen in plaas van 6,5 miljoen individuele belastingbetalers uit ’n bevolking van 50miljoen. Wat meer is: 75% van die staat se persoonsbelasting-inkomste kom uit die sakke van mense wat R32 000 of meer per maand verdien – net meer as ’n miljoen van die 5,5 miljoen.

Hierdie miljoen, wat nog nie geëmigreer het nie en wat nou bo lê wat inkomste betref, is waarskynlik die enjinkamer van groei in Suid-Afrika. Ja, daar is ook mense wat minder as R32 000 per maand verdien en welvaart skep, en mense wat meer as dit verdien en welvaart vernietig, maar in die algemeen gaan hoër inkomste gepaard met groter welvaartskepping.

’n Mens sou dink ’n regering moet alles doen wat hy kan om hulle te behou. Maar nee, ontmoedigende faktore sluit in ruim bykomende belastings, misdaad, ont eieningspraatjies, verlammende kompetisiekommissies, kollektivisering in gesondheidsorg, stremmende arbeidswette, die huidige vorme van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie, en meer.

Die tweede parallel met die boek is tussen die versetbeweging wat in die verhaal teen Galt opbou en die pogings in Suid-Afrika om ’n ommekeer teweeg te bring. In die roman besluit ’n paar sakemense en skeppendes om Galt te beveg. Terwyl Galt homself as ’n bevryder sien, bestempel hulle hom as ’n vernietiger. Kollegas wat verdwyn het, word, in ’n sekere sin, as tou-opgooiers beskou. Die vasbyters belowe mekaar hulle sal nie verdwyn nie en sal bly produseer en voorsien om die land in stand te hou. Intussen vergroot die onheilspellend alliansie tussen die boek se tenderpreneurs-ekwivalent en politici op dramatiese wyse. Gelykheid van uitkomste – en nie selfverbetering nie – word tot die doel van ekonomiese handeling verhef.

Tweehonderd bladsye voor die einde is die slagordes só opgestel: Daar is John Galt, wat mense aanmoedig om die skip te verlaat en ’n nuwe een te bou; en daar is sakemense en skeppendes wat die bestaande skip weer op koers wil kry. In die boek wen Galt; en die wêreld buite sy vallei moet ten gronde gaan voordat hy en sy welvaartskeppers sal terugkeer om dit van nuuts af op te bou.

Maar in Suid-Afrika is die volgende 200 bladsye nog nie geskryf nie. Hier keer een miljoen mense nog dat Atlas sy skouers vir die land ophaal en staak. Maak dit vir hulle aangenaam om te bly.

Piet le Roux is verbonde aan die F.W. de Klerk-stigting. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid.

<<Hierdie rubriek van my het op 16 November 2010 in Die Burger verskyn>>

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: