Vryburger

Vryheid en orde / Freedom and order

Werksverskuiwing, nie werksverliese


Spinning JennySommige mense is van mening dat die verskuiwing van sekere fabrieke na oorsese plekke met goedkoper arbeid ‘n slegte ding is. Hulle dink dit lei tot werksverliese, maar hulle is verkeerd: dit lei net tot werksverskuiwing. Uiteindelik het dit ‘n deurgaanse verhoging van welvaart en verbetering van lewenstoestande regoor die wêreld tot gevolg.

In my dae, die 1990’s, was daar ‘n vak op skool genaamd geskiedenis.* Daar het ‘n mens geleer van die Spinning Jenny – ‘n baanbrekende weefmasjien uit die 18de eeuse Britse Industrialisasie. Die masjien het dit moontlik gemaak om, per werknemer, dramaties meer weefstof/materiaal te produseer as wat voorheen moontlik was. Hierdie masjien, en die ander meganisasieprosesse uit die Britse Industrialisasie, is een van die redes waarom die hele wêreld sedertdien so ‘n ongekende toename in welvaart ervaar het: produktiewer arbeid en produktiewer aanwending daarvan met behulp van kapitaal.

‘n Aantal mense was bevrees dat die masjien tot werksverliese sou lei en het toe by die ontwerper se huis ingebreek en ‘n klomp van die masjiene vernietig. Wat die aanvallers nie verstaan het nie, was dat die Spinning Jenny nie tot werksverliese gelei het nie, maar tot werksverskuiwing – met ander woorde: die masjien het dit moontlik gemaak dat mense se produktiewe arbeid skielik op ander plekke beter aangewend kon word. Dit het terselfdertyd die prys van materiaal drasties verlaag vir verbruikers van oraloor.

Toe ek die eerste keer van die Spinning Jenny geleer het, het ek simpatie met die mense gehad wat oënskynlik sonder werk sou sit. Maar ek kon nie anders as om terselfdertyd te weet dat daardie mense nie vir die res van hul lewe sonder werk sou sit nie. En ek kon my ook nie daarmee versoen dat hulle andersins die reg sou hê om hul werkgewers te dwing om nie masjiene te gebruik nie en dat materiaal dan duur en onbekostigbaar vir die res van die mensdom sou bly nie. Terugskouend is dit duidelik dat die Spinning Jenny die mensdom tot voordeel en nie tot nadeel gestrek het nie, sowel as dat daar vandag veel meer werksgeleenthede is as in die 17oo’s. 

Prof. Donald Boudreaux van George Mason Universiteit verduidelik hierdie dinamiese ekonomiese verskynsel**:

Werkskepping is geen uitdaging nie – die uitdaging is welvaartskepping.

Ongelukkig word ekonomiese dinamika dikwels verdoem. Wanneer ‘n nuwe vonk van dinamika masjiene in staat stel om take te verrig wat voorheen mensespier vereis het, of wanneer ‘n oorsese bron van verskaffing oopgaan, fokus politici, kommentators en verslaggewers te dikwels op die gevolglike verlies aan binnelandse werksgeleenthede. Hulle is bekommerd dat die werkers wie se posisies vandag deur tegnologie of handel uitgeskakel word vir altyd werkloos sal bly. En op sy beurt spruit hierdie bekommernis weer uit die vrees dat die aantal betalende werksgeleenthede in ‘n ekonomie ‘n vaste aantal is.

Dieselfde beginsel wat geld vir die Spinning Jenny geld vir goedkoop arbeid in ander lande. Net soos wat produktiewe arbeid vrygestel kon word deur die Spinning Jenny, so word produktiewe arbeid vrygestel wanneer werkgewers mense in ander lande in diens neem wat teen laer koste as plaaslike mense produkte kan vervaardig. Die mense wat skielik in die een land nie meer werk het nie, is nou vry om in diens geneem te word om ander werk te verrig wat nie teen ‘n lae koste deur mense in ander lande gedoen kan word nie.

Industrialisasie het nie tot werksverliese gelei nie, maar tot werksverskuiwing en ‘n algehele verhoging in die ganse mensdom se welvaart en uiteindelik veel meer werksgeleenthede. Indien daar geen Spinning Jennys was nie, sou die werknemers van destyds se kinders dalk vandag nog handmatig sit en weef het, in plaas van om kunstenaars, rekenmeesters, dokters, sweisers, ontwerpers, masjienbeheerders, ens te wees. En vandag, danksy die Spinning Jenny (die produktiewer aanwending van arbeid) kan hulle en vele ander mense in baie beter klere wees en hoef hulle veel minder ure te werk om genoeg te verdien om te kan leef.

Die beginsel dat dit wenslik is om produksie met goedkoper metodes te verrig bly dieselfde – of dit nou die Spinning Jenny is of mense in ‘n ander land wat laer lone vra. Goedkoop produksie in ander lande stel produktiewe binnelandse arbeid vry wat tot werksverskuiwing lei en nie werksverliese nie.

*Met vandag se skoolstelsel weet mens nie meer seker dat die vak, Geskiedenis, nog (in ‘n sinvolle vorm) bestaan of dat skoliere nog van die Spinning Jenny leer nie. 

**p64-65. ‘Globalization’. 2008. Greenwood Press: Westport; lees ook sy blog by www.cafehayek.org

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: